“… en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Romeine 5:5).
Een van die mooi gedeeltes waar ons herinner word aan wie die Drie-enige God is en veral hoe hierdie God in ons lewe werk, vind ons in Romeine 5:1-5.
Paulus begin die gedeelte met ‘n verwysing na God by wie die mens nóú, sonder vrees of angs, in vrede mag lewe. Dié vrede, so vervolg hy, het nie uit die lug geval nie, maar Jesus Christus het dit bewerkstellig – God se enigste Seun wat uit liefde na die wêreld gestuur is (Joh 3:16). Deur Hom, so getuig Paulus, het ons nou vrye toegang tot God se genade (Rom 5:2).
Anders as die vlugtelinge uit Afrika en elders wat in Europa voorgekeer en verban word, mag ons van iets anders weet: Danksy Christus, is die pad na God toe oop. Dit wat ons van God geskei het, is afgebreek en verwyder. Tussen mens en God is daar nou vrye verkeer.
Maar Paulus gaan ‘n stap verder. Hy vertel dat God se liefde boonop in ons harte deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is uitgestort is. En hierdie Gees vul ons harte met hoop en blymoedigheid, veral ook wanneer ons ly of swaarkry (Rom 5:3-5). Deur ons in God se liefde te anker en te drenk, maak die Gees ons taai en volwasse om nie net die ergste rampe en onreg met waardigheid te deurstaan en te oorleef nie, maar om selfs ons vyande en vervolgers te leer liefkry.
Geen wonder nie Paulus praat elders jubelend oor hierdie rykdom van God se genade wat in Christus so oorvloediglik aan ons geskenk is. En hoe die Gees die waarborg van hierdie unieke erfdeel is (Efes 1:7-8,14).
Heilige God, dankie vir die rykdom van u genade in Christus en deur u Gees. Help my om vandag weer daaruit te leef. Amen
Carel Anthonissen