Boodskap vir Vandag

Search

Dit is waarvoor ons leef

Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg (Matteus 5:44).

Een van die mooi voorbeelde van hoe iemand die belang van liefde in sy lewe ontdek het, kom uit Tolstoy se belangrike werk “War and Peace”.

Andrei Bolkonski – een van die hoofkarakters van die boek – was ‘n Russiese adellike met al die trekke wat dikwels dié stand gekenmerk het: swier en verfyndheid, maar ook ydelheid en trots – iets wat hom dikwels met ‘n soort koudheid en ongeduld op ander laat neerkyk het.

Tydens Napoleon se Russiese oorlog, word hy egter swaar verwond. In dié tyd kruis sy pad met Antole Kurágin – iemand wat hom op ‘n stadium groot leed aangedoen het, maar nou, soos hy, sterwend en in groot pyn langs hom in die hospitaal lê.

By die aanskoue van sy ou vyand se ellende, val alle gevoelens van haat en vergelding by Andrei skielik weg en begin hy huil – huil oor Antole sowel as sy eie ellende. Ook oor die baie foute van homself en van alle ander mense.

En dan word dit skielik glashelder vir hom: “Compassion, love for our brothers, for those who love us and for those who hate us, love of our enemies; yes, that love which God preached on earth and which I did not understand – that is what made me sorry to part with life, that is what remained for me had I lived.”

Inderdaad is dit waarvoor ons leef – die alles- en almal-insluitende liefde van God wat die Gees elke dag in ons harte uitstort.

Kom Gees van God, vul my lewe vandag weer met u liefde wat almal vergewe, aanvaar en met jammerte bejeën. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.