Boodskap vir Vandag

Search

Die uitstraling van ons persoon

Stralende oë bring blydskap, goeie tyding verkwik ‘n mens (Spreuke 15:30).

Hoe langer ek met mense saamleef, hoe meer raak ek bewus van ‘n bepaalde uitstraling in almal van ons se persoonlikhede.

Natuurlik wissel hierdie uitstraling of aura, afhangende van die soort dag wat jy beleef het of die bui waarin jy verkeer. Beslis het dit ook iets te make met jou spesifieke persoonlikheid, jou basiese instelling teenoor die lewe en ander mense.

So loop ek weer nou die dag op straat ‘n ou tennisvriend van my raak. Ek sien hom min, maar wanneer dit gebeur, is dit altyd spesiaal. Hy is ‘n interessante en kleurvolle mens met ‘n maklike glimlag, luide stem en wakker oë wat altyd direk na jou kyk as hy praat.

‘n Ontmoeting met hom is nooit vervelig nie en loop altyd uit op ‘n gevulde oomblik wat die gemoed oplug en verrykende indrukke laat.

Dit wéét ek wanneer ek kort daarná by ‘n winkel instap om ‘n drasak vir my dokumente te koop. Terwyl ek onderhandel en die sak se band om my lyf toets, word ‘n koerant (wat ek pas gekoop het) in my hand skielik ‘n oorlas. Totdat ‘n vreemde jong dame wat my klein lastigheid met ‘n geamuseerde blik gadegeslaan het, skielik naderkom met die vriendelike aanbod: “Kom ek hou solank die koerant vir jou vas, terwyl jy meet en pas.”

Ek is half uit die veld geslaan, maar besef dan: Ek dra nog die nagloed van die vorige gesprek en ontmoeting met my saam.

En sy het dié uitstraling aangevoel en met ‘n soortgelyke aura daarop gereageer.

Here, vul ons vandag so met u liefde en blydskap dat ons oë sal straal en ander daardeur verkwik sal word. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.