Boodskap vir Vandag

Search

Oor familievetes

Esau het vir Jakob gehaat oor die seën wat sy pa aan hom gegee het (Genesis 27:41).

Dit is nie ongewoon dat van die felste en onverkwiklikste vetes in families voorkom nie.

Jakob en Esau se onderonsie was maar een van baie kwaai geskille en vetes wat ‘n mens in die Bybel en in die geskiedenis aantref.

Dat families onderling ongenaakbaar en fel kan stry, bly natuurlik altyd ‘n hartseer saak. Ironies genoeg hang sulke vetes dikwels saam met die feit dat familie so na aan mekaar is, mekaar oor jare so góéd leer ken het. En daarom weet van mekaar se swakhede en foute. Sodat hulle in die hitte van die oomblik hulleself amper nie kan help nie: Die ander se kwesplekke word meedoënloos en met venyn blootgelê en getakel.

Wat gemaak as jy jou op ‘n dag in so spanningsvolle stryd bevind?

Vir sommige sal dit waarskynlik gerade wees om, ten minste dan vir ‘n tyd, van sulke toksiese verhoudings afstand te neem ten einde hulle eie geestelike balans en nugtere oordeel te herwin. Ja, stap vir ‘n ruk weg daarvan! En moenie skuldig daaroor voel nie!

Miskien bly die grootste uitdaging egter om, soos die digter NP van Wyk Louw, van huis uit te weet dat niemand dit altyd mooi met die heelal tref nie. En dat ons daarom moet leer om, soos hy dit stel, ironies te leef, met ‘n klein bietjie trots en met baie liefde en vergifnis daarby.

Ons is per slot van sake tog familie.

Here, vergewe ons vandag waar ons in stryd met ander verval het, ja, selfs die ander verag of haat. Leer ons opnuut die diepere geheime van versoening, want self kan ons nie daarby uitkom nie. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.