Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

‘n Tuiste vir almal

Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting (Romeine 8:22).

Eerskomende Sondag is Omgewingsondag – ‘n dag waarop ons opnuut ons innige verbondenheid met ons eerste moeder, moeder aarde, gedenk en vier.

Dit is ook ‘n dag waarop ons – in die woorde van Paulus – die diep versugting van ons moeder moet hoor dat ons as kinders van God tog meer sigbaar na vore sal kom om opnuut vir haar in te tree en vir haar te sorg.

Wat beteken dat ons Sondag allereers met berou daaraan sal dink hoe ons as mensdom tot dusver hierdie wonderlike geskenk van God verniel en misbruik het. Tegelykertyd moet ons – ja élkeen van ons – opnuut besin hoe ons ons hebsug en vernielsug kan temper, soberder en méér respekvol kan leef en só, by wyse van spreek, die gesig van ons moeder weer kan ophelder, ja, kan bevry van al die donker verdriet en pyn wat ons haar elke dag aandoen.

Miskien kan ons in die woorde van ‘n mooi kinderlied die volgende begin bely én sing:

Die aarde is ‘n tuiste vir baie, en nie net vir jou en vir my nie! Dit is ‘n tuiste vir blomme en woude, vir voëls en skoenlappers! Die aarde is ‘n tuiste vir riviere en seekoeie, walvisse en olifante! Dit is ‘n tuiste vir canyons en kamele, vir slange en salms! Die aarde is ‘n tuiste vir aasvoëls en leeus, jakkalse en vleirotte! Dit is ‘n tuiste vir akkedisse en luiperde, vir die sneeu, die see en die lug!

Ja, dít mag ons nooit vergeet nie: Die aarde is ‘n sorgsame moeder wat almal en alles elke dag in haar groot, vriendelike arms wil ontvang en vashou.

O Here, laat ons vandag stadiger leef sodat ons meer opmerksaam kan wees vir alles wat rondom ons bestaan en gebeur. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.