Die aarde het groen plante laat uitspruit wat elkeen na sy aard saad gee, en bome wat vrugte dra met saad daarin, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed (Genesis 1:12).
Om ons eie aandeel aan die verwaarlosing van ons aarde en die toenemende ekologiese krisis te beskryf, word dikwels verwys na as mense se koolstofvoetspoor.
Dit is die talle wyses waarop ons – hetsy deur onnodige ritte of die oorgebruik van spuitmiddels – bydra dat ongesonde gasse in ons atmosfeer vrygelaat word, gasse wat die beskermende, maar brose, osoonlaag elke dag help aftakel.
Wie eenmaal hiervan bewus geword het, word dikwels deur ‘n gevoel van magteloosheid oorval. Jy besef skielik hoe onherroeplik jy deel is van groter kulturele en ekonomiese sisteme wat elke dag, meesal terwille van groter vooruitgang en geld, God se goeie aarde skend en oorbelas.
Tog mag hierdie gevoel ons nie daarvan weerhou om die aarde te bly respekteer en elke dag iets te doen om dit te help beskerm teen die baie maniere waarop dit misbruik en vernietig word nie.
Om mee te begin: Leer om ligte af te skakel, stap meer en ry minder – dit is boonop gesonder. Vermy te veel plastiek. En belangrik: Moenie mors nie. Ja, moenie jou gemors roekeloos uitgooi of rondstrooi nie. Hou die riviere skoon, die bome gesond. Hou op raas.
Dit mag klein gebare of gewoontes wees, maar wéét dat dit ‘n verskil aan ‘n volgende geslag se toekoms kan maak.
O Here, U het die aarde goed en mooi gemaak. Help ons om dit so te hou, ja, selfs nog meer te doen om dit te beskerm. Amen
Carel Anthonissen