Dit alles gebeur oor die sonde van Jakob, oor die oortredings van die volk Israel (Miga 1:5).
Wie enigsins die oorspronge van die huidige geweld en misdaad in ons samelewing wil verstaan, kan gerus Charles van Onselen se boekie “The Small Matter of a Horse” lees.
Oorspronklik aangebied as ‘n voorlesing by van Onselen se aanstelling as professor in geskiedenis by Wits Universiteit, vertel die boek die verhaal van ‘n jong swart man, Mzuzephi Mathebula.
Mzuzephi word relatief onskuldig groot aan die voetheuwels van die Drakensberge waar hy lang jare lank sy pa se beeste oppas. Teen die tyd wat hy negentien is, word hy deur ‘n sekere Tom J van Harrismith in diens geneem. Sy opdrag was om die perde op die plaas te versorg.
Wanneer een van die perde op ‘n dag wegraak, word hy valslik van nalatigheid, selfs diefstal, beskuldig en met tronkstraf gedreig. Ook word sy geld as ‘n vorm van afbetaling teruggehou.
Hierdie insident rondom die perd noop Mzuzephi toe om te vlug en sy heenkome in Johannesburg te gaan vind. Aangevuur deur sy opstand teen hierdie eerste vorm van onreg, word sy lewe een van verset en misdadigheid. Hy word nie alleen die leier van ‘n berugte bende nie, maar ‘n voorloper van dié soort geweld en misdaad wat vandag steeds ons samelewing teister.
Tereg skryf Jonny Steinberg in sy voorwoord tot hierdie merkwaardige storie:
“The Small Matter of a Horse”, written nearly a quarter of a century ago, locates the roots of our current violence in the mainstay of our past. In its lean, unvarnished tale of one man, it tells us something of who we are, and from where we have come.”
Die boek vlek ons geskiedenis oop. Dit wys tereg hoe ‘n enkele daad van onreg deel is van ‘n hele stelsel en mentaliteit, en algaande ‘n geskiedenis vol tragiese geweld en misdaad tot gevolg kan hê.
Here, help ons vandag om opnuut te sien waar die geweld en misdaad in ons samelewing vandaan kom. En hoe ons ook, sonder dat ons dit besef, daaraan aandadig kan wees. Wees ons tog hieroor genadig! Amen
Carel Anthonissen