Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie (Lukas 7:6).
In die verhaal van die offisier wie se slaaf Jesus genees het, is daar ook sprake van ‘n tweede gloeiende getuigskrif.
Dit is toe Jesus aan die einde van die verhaal met verwondering na die skare draai en die volgende van hierdie heiden-offisier kwytraak: “Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so ‘n groot geloof teëgekom nie” (Lukas 7:9).
Dit is tog merkwaardig!
Wat onmiddellik die vraag laat ontstaan: Wat het Jesus beweeg om hierdie ongewone woorde te uiter? En uiteindelik ook hierdie man te help?
Om mee te begin was daar sy bykans blindelingse vertroue op Jesus se gesag en mag. Iets wat Jesus diep moes geraak het. Want sonder dat die offisier Jesus ooit gesien het, of enige van sy wonderwerke meegemaak het, ja, sonder enige bewyse, bloot op grond van wat hy gehóór het en op grond van sy ervaring as ‘n offisier, kom hy na Jesus toe.
Jy moet saamstem: Dit klink na ‘n riskante dobbelspel, selfs ‘n dom stap. Maar dít is waar geloof áltyd begin: die vertroue op Hom van wie ons net gehoor het. En dan die moed om dit met Hom te waag.
Daar is egter nog méér: Jesus hoor ook sy diepe versugting. En daarmee saam sy eerlike belydenis dat hy geen aanspraak op hulp het nie. Dat hy dit nie eers werd is dat Jesus na hom toe kom nie. Dat ‘n enkele woord, ja, ‘n stukkie genadebrood, genoeg sal wees. En dít by uitstek: Sy leë hande en nederige gees, sy gewilligheid om van genade alleen te leef, beweeg Jesus.
Want vir sulke mense het Jesus gekom, selfs sy lewe afgelê.
O Here, gee ons vandag weer ‘n gees van nederigheid en afwagting. Want aan sulke mense het U u seën en koninkryk belowe. Amen
Carel Anthonissen