Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as Hy ‘n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ‘n sondares is” (Lukas 7:39).
‘n Ruk gelede praat ‘n klompie mense by ‘n maandelikse stildag oor die verskil tussen ware en valse godsdiens.
Dit word gou duidelik dat hierdie verskil subtiel is en op verskeie vlakke lê.
Vereers is ware godsdiens altyd akkommoderend en verdraagsaam. Dit nooi binne en waag dit om met liefde na ander mense uit te reik en te ontmoet. Wat natuurlik nié beteken dat jy alles van andere goedsmoeds moet aanvaar of verdra nie. Of nie vry kan voel om ander streng aan te praat of soms ernstig te vermaan en te berispe nie ‑ dus duidelike grense te trek nie.
Maar dié reg verdien jy gewoonlik eers nádat jy die ander mens binnegenooi en goed leer ken het.
Valse godsdiens, daarenteen, is by voorbaat uitsluitend. Dit trek van huis uit grense. Werk met wantroue en vooroordele. Stereotipeer, fluister agteraf en hou ‘n duidelike afstand. Kortom, valse godsdiens leef van vrees en sukkel om mense wat anders as jy is, te leer ken, te aanvaar en te omhels.
Wie ons teks vir dié week, Lukas 7:36-50, mooi lees, sal sien dat dit een van die groot verskille tussen Jesus en Simon die Fariseër was.
O Here, gee ons vandag weer oop harte teenoor ander, maar ook die moed om op te staan en die ander in liefde te vermaan waar nodig. Amen
Carel Anthonissen