Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die ander is altyd méér

Dít is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê (1 Johannes 3:11).

Mense bly kompleks, soveel so dat ons nie sommer moet aanvaar dat ons hulle volledig ken nie.

Die filosoof, Ken Wilber, was in sy verhouding met sy vrou diep bewus van hierdie misterie, hierdie onpeilbare diepte en veelkantigheid van haar persoon. Vandaar sy woorde: “Ek ken haar so goed, ek het geen idee wie sy is nie.”

Vir party mense mag so ‘n uitspraak uiters vreemd klink. Want binne enige verhouding wil ‘n mens tog wéét – en dit ook ten regte – wié die ander een regtig is en wát ons van hulle kan verwag. En tog is daar tye wanneer ander mense ons verwagtings of persepsies van hulle totaal kan oorstyg.

Ons moet leer dat ons ander mense nooit kan of mag vaspen op een ervaring, opinie of indruk van hulle nie. Hulle ook nie kan beheer of kontroleer soos ons dikwels verlang nie.

Nee, ander mense is altyd baie méér as wat ons van hulle kan sien of dink. Trouens, presies wanneer ons sê ons ken iemand, moet ons hulle ook toelaat, ja, die vryheid gun om ons met iets te verras wat ons nooit van hulle geweet, vermoed of verwag het nie.

Iets sê vir my dít is die soort vryheid waarbinne die liefde floreer …

O Here, dankie vir die onpeilbare misterie van die ander. Help ons om dit in al ons ontmoetings te onthou. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.