Gee my groete ook aan Andronikus en Junias, my volksgenote wat saam met my in die gevangenis was (Romeine 16:7).
In Mark Twain se klassieke jeugverhaal, “The Adventures of Tom Sawyer”, is daar ‘n skrikwekkende toneel waar hy en sy twee maats, nadat hulle weggeloop het, in ‘n storm op ‘n verlate eiland beland.
Hoe erg die storm ook al vir die drie vriende was, Twain se beskrywing daarvan is weergaloos. Enigiemand wat al oorval of vasgevang was in só ‘n storm, kan amper deur sy woorde die sterk wind, vlae en vlae reën, blitsende weerligstrale en die oorverdowende slae van donderweer, aan die lyf voel.
Hoor net hoe beskryf Twain die klimaks van die storm: “The storm culminated in one matchless effort that seemed likely to tear the island to pieces, burn it down, drown it to the treetops, blow it away, and deafen every creature in it, all at one and the same moment. It was a wild night for homeless young heads to be out in.”
Behalwe dat die storm later bedaar het, was daar ook iets anders wat die drie beangste vriende laat oorleef het. En dit was, náás ‘n verweerde tent, hulle vriendskap, die feit dat hulle mekáár gehad het. In Twain se woorde: “One by one they straggled in at last and took shelter under the tent, cold, scared, and streaming with water; but to have company in misery seemed something to be grateful for.”
Dit mag ‘n ou waarheid wees, maar om geselskap, vriendskap en ondersteuning te hê wanneer die storms kom, is inderdaad iets om baie diep dankbaar voor te wees.
Eintlik bly dit deel van God se onverdiende genade in ons lewe.
O Here, dankie vandag weer vir vriende wat by ons is en ons bly ondersteun wanneer die storms om ons woed. Amen
Carel Anthonissen