Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God (Kolossense 3:2-3).
Onlangs tydens haar middagprogram vra die bekende omroeper van RSG, Amoré Bekker, die hulp van luisteraars om die betekenis van sekere woorde op te klaar.
Die woord wat dié betrokke middag ter sprake kom, is die woord “geborgenheid”.
Ek luister met groeiende verbasing hoe baie luisteraars kleitrap, selfs hopeloos verdwaal en mis skiet in hulle pogings om by die betekenis van die woord uit te kom. Miskien was dit omdat die woord in my eie lewe so ‘n belangrike en troosvolle rol gespeel het en steeds speel dat ek dié gestoei met belangstelling volg.
Want die woord beteken tog eenvoudig net om veilig te wees – omsluit, verskans, vas, seker. In die Bybel dui geborgenheid spesifiek op die veilige en onaantasbare staat waarin ons as mense verkeer, danksy die betroubare sorg van God: God se liefde in en deur Christus wat ons elke dag op ‘n misterieuse, maar wonderlike wyse omsluit, vashou en dra.
Oor hierdie liefde en hoe ons lewe daarin verborge én geborge is, skryf Paulus aangrypend in Kolossense 2-3.
Gaan lees dit gerus weer. Dit is oneindig troosvol.
O Here, dankie dat ons lewe vandag weer in U vas, veilig en seker, ja geborge is. Amen
Carel Anthonissen