Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed (Romeine 12:12).
Daar is min dinge so hartseer en tragies as mense wat ouer word met ‘n verborge wrok, haat of opstand in hulle gemoed.
Mense wat, soos die digteres Mary Oliver dit stel, uiteindelik die lewe al brommend en bakleiend met alles en almal om hulle verlaat.
Natuurlik pas dit ons nie om sulke mense summier te veroordeel of af te skryf nie. Wat weet ons per slot van sake van hulle omstandighede? Van die talle terugslae en teleurstellings wat hulle miskien in die loop van hulle lewe moes hanteer? Of die pynlike indrukke en wonde wat hulle moes verdra en verwerk en wat hulle lewensuitkyk en stemming onherroeplik gestempel het?
Nee, eerder moet ons met deernis en begrip na sulke mense kyk, selfs vir hulle bid, terwyl ons self waaksaam bly dat ons nie oormatig iesegrimmig en knorrig, selfs sinies en bitter oud word nie.
Want deur só oud te word, versaak ons nie net ons roeping as Christene nie, maar ook ‘n samelewing wat vandag meer as ooit smag na mense wat positiewer, dankbaarder, hoopvoller en méér konstruktief sal optree en praat.
O Here, bewaar ons vandag van daardie wrokkigheid wat ons eie gemoed en alles rondom ons vergiftig en moedeloos stem. Amen
Carel Anthonissen