Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die goddelike noodsaak

Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin (Lukas 9:51).

Een van die opvallende kenmerke van Jesus se reis en bediening op aarde was dat dit deur ‘n bepaalde goddelike dwang of noodsaak gedryf was.

‘n Mens sou ook kon praat van ‘n goddelike “moet” wat Jesus se bediening gestempel het.

So lees ons in Johannes 4:4 dat Jesus deur Samaria móés gaan. So asof dit nie anders kon nie. Want dáár, so het sy Vader bepaal, moes hy die Samaritaanse vrou ontmoet. Om déúr haar die lewende water wat vir almal bestem is en wat vandag nog ons diepste dors kan les, beskikbaar te maak.

In ons Skrifgedeelte vir hierdie week, Lukas 9:51-62, sien ons dieselfde goddelike dwang of heilige noodsaak aan die werk. Dié slag gaan dit om Jesus se laaste reis na Jerusalem, die einddoel van sy sending hier op aarde. Dié doel was om sy lewe vir ons, sy vriende, af te lê sodat ons vir tyd en ewigheid geborge kan wees ‑ vry van alle skuld en skaamte, omring deur goeie magte, verskans teen hartseer en dood.

Duidelik staan dit daar: Hoe Hy, toe die tyd gekom het om in die hemel opgeneem te word ‑ dit wil sê gekruisig en as triomferende Heer gekroon te word ‑ vasbeslote die reis na Jerusalem begin het. Asof dit nie anders kon nie.

Wat ‘n verligting dat hierdie dwang of noodsaak bestaan. Want daarsonder sou ons lewe en die geskiedenis ‘n doellose warreling van gebeure wees. Sou daar geen hoop, orde of uitsig bestaan nie.

O Here, wat ‘n verligting om te weet dat U na ons gekom het toe U móés. Dankie dat U ter wille van ons geluk en redding nooit afgesien het van u godgegewe pad nie. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.