Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer? ” Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys” (Lukas 9:54-55).
‘n Mens sou Jesus se sending op aarde ook kon beskryf as ‘n poging om mense, spesifiek sy dissipels, tot ‘n dieper, varser en bevrydender bewussyn of visie ten opsigte van die lewe en ander mense te lei.
Hoe belangrik en nodig dit was, sien ons duidelik in ons teks vir die week, te wete Lukas 9:51-62.
Daar lees ons hoe Jesus op sy pad na Jerusalem ‘n bloutjie met die inwoners van ‘n sekere Samaritaanse dorp geloop het. Hulle het geweier om Hom as Jood te ontvang – waarop die dissipels toe met woede reageer het, selfs by Jesus aangedring het om hierdie mense te verdelg.
Maar Jesus se bewussyn, ja, sy persepsie van dié mense was anders. En dit moes sy dissipels in dié uur ook leer.
Behalwe dat ons lees dat Jesus sy dissipels skerp tereggewys het, weet ons ook, danksy sekere manuskripte, wát Jesus in dié oomblik gedink en gesê het. Sy woorde, volgens dié geskrifte, was naamlik: “Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red” (vgl 1953-vertaling Luk 9:55 en 56).
Wat ‘n belangrike vermaning vir ons tyd en konteks! Dat ons soos Jesus moet leer kyk en dink. Ook voortdurend deur sy Gees gelei en gerig moet word. En daarom versigtig moet wees om ander af te skryf, of in hoofvaardige woede en verontwaardiging wég te wens.
O Here, U ken die woede en verontwaardiging wat baie dae in my leef. Help my vandag weer deur u Gees om anders te kyk, te dink en te reageer. Amen.
Carel Anthonissen