Elkeen wat so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My (Markus 9:37).
Op sy pad na Jerusalem was daar, náás sy vermaning dat sy dissipels hulle oordele oor mense moes temper en opskort, ook ‘n tweede les wat Jesus sy dissipels moes leer.
Hierdie les het gegaan oor ware mag en invloed en wie eintlik belangrik is.
Weer eens – en dié slag vertel Markus (Mark 9:30-37) ons daarvan – was dit die dissipels wat ‘n totale gebrek aan insig en aanvoeling toon, wie se bewussyn opportunisties, oppervlakkig en uit pas met Jesus s’n was.
Want terwyl Jesus hulle probeer voorberei op sy dood en die swaar tye wat vir hulle voorlê, sien hulle steeds in Jesus ‘n kans om belangrik te word. Beskou hulle Hom as iemand wat invloed, voordeel en posisie vir hulle kan beding. Probeer hulle opportunisties óór die historiese uur en sy uitdaginge spring om allereers hulle eie selfsugtige begeertes en ambisie te bevredig.
Vandaar hulle stryery oor wie die belangrikste kan wees (Mark 9:34).
Hoe absurd en ongevraag was dit nie! Maar is dit nie ook hoe ons opereer nie? Is dit nie ook dié soort bewussyn (“mindset”) wat inskop, dié soort opportunistiese instelling wat na vore kom wanneer swaar en donker tye ons sekuriteite begin bedreig nie? Om dan alleen daaraan te dink: Hoe kan ék oorleef, vóór kom, steeds bly wen, wins maak, die belangrikste wees?
En dan moet Jesus ons weer die ou les leer dat dit in die lewe om diens, kruis-dra, offerbereidheid, ja, om nederige liefde gaan. En dat ‘n mens dít eers snap en kan uitleef as jy die bewussyn van en vir ‘n kind het.
O Here, vergewe ons ons baie vrese en die selfsugtige opportunisme wat daaruit voortvloei. Leer ons om nederiger en soberder te leef. Amen
Carel Anthonissen