U maak ‘n einde aan ‘n mens, hy gaan die doodslaap in. Hy is soos gras wat in die môre afgesny word: in die môre is dit nog groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep en dit verdroog (Psalm 90:5-6).
Die kortstondige en verganklike aard van ons lewe is nie iets waaraan ‘n mens graag dink nie.
Veral nie as jy nog jonk is met ‘n lewe vol groot drome en planne voor jou nie.
Tog, wie dit waag om die feit van sy eie dood vroeg reeds te bedink en te aanvaar, soos die filosoof Heidegger aanbeveel het, mag ‘n paar belangrike dinge ontdek.
Die eerste is dat almal van ons misbaar en klein is – ‘n onbeduidende asempie in ‘n groot uitdyende heelal. En wanneer ons lewe eendag verby is, keer ons terug tot stof en raak vergete. Hierdie wete moet ons help om met nederigheid, sonder enige pretensie of hoogmoed, ja, selfs met ‘n tikkie humor, ons aardse lewe deur te bring.
Terselfdertyd kan en moet hierdie wete ons ook tot diepe dankbaarheid bly stem – wetende dat al is ons lewe klein, kortstondig en verganklik, dit nie noodwendig sonder betekenis is nie. Ja, selfs al is dit soos gras of ‘n blom wat eendag gaan verwelk, is daar ook ‘n tyd – hoe kort ook al – wanneer dit, danksy God se genade, gaan blom en ander kan verbly.
Om in die aangesig van ons dood albei hierdie perspektiewe of waarhede vas te hou, bly die kuns van sinvol en selfs voluit lewe.
O Here, ons dink nie graag oor ons eie dood nie. Vandag weet ons egter dat die dood ons beskeie én dankbaar kan hou. Help ons daartoe. Amen
Carel Anthonissen