Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting (Psalm 46:11-12).
In hierdie tyd van politieke en sosiale onrus en onsekerheid, het ‘n preek van my oud-leermeester, professor Willie Jonker, skielik by my opgekom.
Terwyl ons eie land destyds gebrand het, het hy ons een oggend in die erediens aan die boodskap van Psalm 46 herinner.
Daar hoor ons hoe, te midde van aardskuddende en ontstellende veranderings – aangrypend uitgedruk in beelde van die aarde wat padgee, golwe wat druis, berge wat skuif en stede wat wankel, terwyl nasies raas (vs 3-7) – God groot en onaantasbaar bo alles staan.
Dat God boonop vir ons wat bang en onseker is, ‘n vaste toevlug en ‘n beskerming is – ‘n beskutting in tye van nood (verse 2,12).
Dít, so hoor ons aan die einde van die Psalm, sal ons egter eers ontdek en wéét as ons innerlik en uiterlik tot bedaring gekom het, ja, stil word en weet dat die Here, God is – hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.
Mooi en troosryk vertaal Eugene Peterson hierdie uitnodiging: “Step out of the traffic! Take a long, loving look at me, your high God, above politics, above everything.”
Waarom nie nou, net daar waar jy is, stil word en dít opnuut oordink nie?
O Here, dat U bo alles staan, ook alles in u hande hou, bly ons troos en blydskap in hierdie tyd van woelinge en onrus. Amen
Carel Anthonissen