Wanneer daar ‘n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. Julle moet hom soos ‘n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte (Levitikus 19:33).
Tydens die jaarlikse Steve de Gruchy-lesing vroeër vanjaar in Kaapstad, gee die bekende Duitse geleerde, Heinrich Bedford Strohm, ʼn interessante insig in die sogenaamde vlugtelingprobleem in Duitsland.
Volgens Strohm was daar aanvanklik ‘n ongekende “ontploffing van deernis”.
Vreemdelinge is met ope arms ontvang. Dit was veral hulle wat kort ná die oorlog self ontheem was wat hierin die voortou geneem het. Hulle het verstaan wié die vlugtelinge was en hóé hulle gevoel het. En hulle was nie die enigste nie. Selfs polisie op straat het hulle hande na die hulpbehoewendes uitgesteek.
En die Christelike kerke het nie agtergebly nie.
Die Bybelse getuienis dat Christene uit ‘n vreemdelingvolk stam en daarom vir diesulkes moet sorg (Lev 19:33), ook ‘n Heer dien wat as vreemdeling geleef het (Matt 25:35,43), en daarom as kerk self die status van vreemdelinge en bywoners het (Hebr 11:13), het skielik nuwe betekenis gekry. Sodat dit nie moeilik was om na die vreemdelinge uit te reik nie.
Intussen het voorvalle van geweld ou vrese van verdringing en terreur weer by baie laat posvat. Sodat wantroue en onverdraagsaamheid, tydelik diep in die nasionale psige in verdring, weer begin opvlam het.
Tussen hierdie twee emosies – deernis en vrees – moet die Duitsers vandag hulle weg vind, aldus Strohm.
Klink dit nie bekend nie?
En is dit nie ook ons uitdaging as burgers en as Christene in ons land vandag nie: Terwyl ons ons vrese en vooroordele eerlik erken, om daarteen te waak dat hulle nie die liefde en sorg waartoe ons gedurig geroep word verdring nie?
Here, besweer vandag weer ons vrese. Leer ons opnuut die omvang en diepte van u liefde. Amen
Carel Anthonissen