Die liefde moet opreg wees (Romeine 12:9).
Jy moet saamstem: Die woord “verdraagsaamheid” klink na ‘n deug wat mense van verskillende agtergronde en sienings kan help om vredevoller saam te leef.
Volgens die voorsitter van die “American Enterprise Institute”, Arthur Brooks, is dit egter ‘n baie bedrieglike aanname.
In ‘n bekende TED-gesprek met die titel “Beyond tolerance”, argumenteer Brooks dat hoewel dit ‘n goeie beginpunt is, dit nooit genoeg is om mense net te verdra nie. Trouens, om ander bloot te verdra, kan ‘n skans word waaragter jy stilswyend en ter wille van ‘n tydelike en bedenklike soort vrede baie van jou broeiende frustrasies, selfs woede, opskort of verberg.
En dit is nie gesond nie. Dit kan selfs ‘n heftiger en bloediger konflik net uitstel.
Nee, ten einde konstruktief en eerlik in die rigting van vrede en eenheid tussen mense en nasies te werk, moet ons ‘n punt bereik waar ons besef: Ons moet ander mense nie net verdra nie – ons het die ander ook nódig, juis vanweë hulle andersheid.
En dit is nooit maklik nie. Dit verg van ons ‘n liefde wat opreg is.
Om mee te begin, vra dit bereidheid om eie vooroordele en persepsies op te skort. En dan moeite te doen om ander werklik te leer ken, te aanvaar en te waardeer.
Min mense is werklik daartoe bereid. Wat van jou?
O Here, leer ons vandag weer wat dit beteken om opreg lief te hê. Amen
Carel Anthonissen