Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie” (Handelinge 10:34).
Om ‘n punt te bereik waar jy ‘n ander mens nie alleen verdra nie, maar werklik leer ken as iemand wat jy nodig het, verg liefde wat moedig en opreg is.
Waarskynlik is dit ook die hoogtepunt van ware volwassenheid.
Maar soos ons reeds laat blyk het: Dié weg is nooit maklik nie. Om mee te begin, vereis dit dat ons ons eie, meesal onbewuste en diep verborge vooroordele en wanpersepsies, eerlik sal herken en iets daaraan doen.
En wie is werklik daartoe in staat of bereid?
Miskien kan dit help om te luister na wat Verna Myers, ‘n Amerikaanse konsultant oor diversiteit, oor die werking van vooroordele geskryf het. Sy praat só daaroor:
“Some say they don’t have any biases in their bones. That is not true. Our biases are stories we make up of people before we know who they are. So stop trying to be good people – become real people who are willing to face their own fear, prejudices and biases. Ask yourself the following questions: ‘What is my default? Whom do I trust? What am I afraid of? Whom do I run away from? Whom do I have a connection with?'”
Waarom nie eerlik en in stilte ‘n ruk lank by hierdie laaste vrae vertoef nie? Dít terwyl ons onthou dat Jesus se bedoeling met ons lewe altyd was om ons eerliker en mensliker te maak.
Kortliks, om ons te laat grondvat waar ons vandag leef.
Here God, daar is nog soveel skewe persepsies en vooroordele in ons lewe waarvan ons nie bewus nie. Kom Gees van God, onthul dit aan ons. En maak so van ons eerliker en geduldiger mense. Amen
Carel Anthonissen