Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf (Lukas 7:38).
Die toets of ons gewillig is om ons vooroordele te los en mense regtig te leer ken en te aanvaar, lê gewoonlik in ons gewilligheid om bý hulle te wees, om tyd saam met hulle deur te bring.
Dit kan op verskillende maniere gebeur. Die bekendste is waarskynlik om saam te kuier of saam te eet.
In die tyd van Jesus was ‘n maaltyd sáám by uitstek die wyse waarop mense hulle begeerte om met ander te assosieer of te meng, gewys het. Wat dit verstaanbaar maak waarom die Fariseërs so aanstoot geneem het dat Jesus met tollenaars en sondaars kon eet.
In Jesus se geval het hy selfs nog ‘n stap verder gegaan. Het Hy toegelaat dat sommige ook aan hom raak, selfs sy voete met hulle hare afdroog, soen en met sagte hande insalf – soos die ontugtige vrou van Lukas 7:36-50 gedoen het.
In die Bybel is daar beswaarlik ‘n meer intieme toneel. Aangrypend beskryf die teoloog, Debie Thomas, dit:
“What happened between Jesus and the weeping woman happens skin to skin … Her contrition, her worship, her yearning and her love are enacted through her body, and Jesus receives them into his own body with gratitude, love, tenderness and pleasure …The holy sacraments here are skin, salt, sweat and tears …This is not a polite piety of the mind; this is physical extravagance.”
Maar só deurbreek Jesus menslike vooroordele en skep Hy intieme en bevrydende gemeenskap.
Ek wonder vandag hoeveel van ons kans sien om so ‘n Christus te volg?
Here, leer ons vandag dié liefde wat braaf genoeg is om U te omhels. Want hoe anders sal ons sover kom om ook ander lief te kry en te omhels? Amen
Carel Anthonissen