Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys (Lukas 9:55).
Wie aan Jesus dink, sien gewoonlik ‘n sagte persoon met onuitputlike geduld en empatie – iemand wat altyd met groot liefde na almal uitgereik het.
Tog – en daarvan vertel die Bybel ons óók – kon Jesus by geleentheid, veral wanneer God se eer op die spel was, met ‘n bepaalde krasheid en ongeduld optree.
Hierdie ongeduld het nie net ten opsigte van die Fariseërs se huigelary gegeld nie (Matt 23). Ook die dissipels moes dit by tye ontgeld. So hoor ons in Lukas 9:55 hoe Jesus twee van sy dissipels, Jakobus en Johannes, skerp tereggewys het.
In sy kommentaar oor die gedeelte wys die Duitse geleerde, Wilhelm Stählin, insiggewend daarop dat Jesus se ongeduld hier nie negatief bedoel was nie. Inteendeel, daarmee wou Jesus hulle bly herinner aan hulle ware roeping. Wou Hy hulle deur sy strenge vermaning dáárheen terugbring.
Dit was dat hulle te alle tye – ook wanneer hulle vanweë onreg en verwerping (Luk 9:53) diep gefrustreerd en kwaad gevoel het – steeds waardige draers van sy helende en versorgende liefde moes bly. En dus waaksaam en wakker moes wees om nie in een driftige oomblik hulle opdrag as kinders van God te vergeet nie.
Want dit kan gebeur dat jy in die hitte van die oomblik iets sê of doen waarmee jy nie net ander kwets of te na kom nie, maar ook die Gees van God bedroef. Selfs God se droom vir jou lewe op dié manier vernietig.
En daarvan wou Jesus hulle destyds – en ook vir ons vandag – deur sy strenge vermaning bewaar.
O Here, praat weer vandag met ons deur u Woord. Al is dit om ons te vermaan en terug te bring na dit waarvoor U ons geskape het. Amen
Carel Anthonissen