Ek wil getuig van u magtige dade, sodat die mense oor u wonderdade sal praat. Ek wil van u grootheid vertel. Sonder ophou moet hulle u groot goedheid verkondig en oor u reddingsdade jubel (Psalm 145:5-6).
Ek is self nie op facebook of twitter nie, maar skynbaar wemel dit daar van rassistiese en beledigende taal.
Wat gemaak as jy self op ‘n dag in geselskap hiermee gekonfronteer word en dit jou hinder? Omdat jy voel dit hoort nie so by beskaafde en veral gelowige mense nie?
Jesus se voorbeeld bly ‘n belangrike rigtingwyser. Dit is dat Hy in sulke situasies altyd weë gesoek het om, soos iemand dit gestel het, mense na hoër paaie te lei. Dit is paaie waarop hulle nie net die beste en mooiste in hulleself nie, maar ook in die lewe van ander kan uitbring.
Dit is nie altyd maklik nie.
Party dae sal dit van jou vra om stil te bly, selfs op te staan en te loop, die spreekwoordelike stof van jou voete af te skud.
Ander dae mag daar ‘n oomblik of gaping kom waar dit aan jou gegun word om te praat – mense in die gees van liefde en besorgdheid te vermaan.
En só te bly herinner aan God se goedheid, en belangrik, aan hulle eintlike bestemming as mense.
Vir dié wysheid, en veral vir die moed om te handel, om die regte ding te doen, sal ons altyd weer in nederige afhanklikheid moet bid.
Trouens, dit vra van ons om elke dag naby die Skepper van ons almal te leef.
Here, help my vandag om so van U te getuig dat ander u goedheid sal sien en ook daaroor sal jubel. Amen
Carel Anthonissen