Net so weet julle ook hoe ons elkeen van julle behandel het: soos ‘n pa sy kinders het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe (1 Tessalonisense 2:11-12).
Jesus se vermaning van sy dissipels, asook ons eie verantwoordelikheid in dié opsig, het my laat wonder oor die betekenis van dié woord in die Bybel.
Die gevolg was dat ek my Nederlandse konkordansie van die Bybel nadergetrek het. ‘n Konkordansie is daardie register van woorde met ‘n aanduiding van die plekke of boeke waar hulle voorkom.
Ek was nie té verbaas om te ontdek dat die woord “vermaan” of “vermaning” (“parakleo” of “noetheteo”) dwarsdeur die Bybel voorkom nie. Die meeste daarvan vind ons egter in die Nuwe Testament. Op byna 60 plekke word daar na gevalle verwys waar mense mekaar vermaan – byvoorbeeld Jesus die Fariseërs of sy volgelinge, en die apostels die gemeentelede.
Wat wel vir my verbasend was, was om te ondek dat die woord of woorde vir “vermaning” in die Bybel deurgaans ‘n toon van besorgdheid en van bemoediging bevat. Daarom word dit dikwels ook vertaal met woorde soos “herinner”, “op die hart lê”, “bemoedig”, “aanspoor”, “aandring”, “versterk” en selfs “pleit”.
En dít is die punt: Wie geroepe voel om ander te vermaan, mag dit nooit in die gees van arrogansie, veroordeling of verwerping doen nie.
Nee, wie vermaan, wil juis ander aanspoor en bemoedig om beter te doen, om hoër te mik, om hulle godgegewe talente en roeping voluit met oorgawe uit te leef.
Sodat ons samelewing ‘n beter en gesonder plek kan word.
O Here, leer ons vandag weer die kuns om mense só te vermaan dat hulle altyd aangespoor en bemoedig sal voel om net hulle beste te lewer. Amen
Carel Anthonissen