En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank (Lukas 17:15-16).
Die woord “dankie” klink miskien gewoon en alledaags, maar is tog, soos ons weet, vol betekenis.
Wanneer dit opreg bedoel word, kan dit mense se stemming en houding teenoor ander mense en selfs teenoor die lewe in die algemeen, oornag verander. Want om vriendelik bedank te word, laat jou altyd gewaardeerd en aanvaar voel.
Presies om dié rede is die weerhouding of afwesigheid van ‘n dankwoord so jammer. Soos my Deense vriend wat reeds agt jaar lank pastorale werk in ‘n tronk in Denemarke doen. Die gevangenes is gaande oor hom. Hulle mis hom wanneer hy die slag nie kan kom nie.
En hulle sê dit ook hoe dankbaar hulle is dat hy daar is en omgee.
Daarteenoor – en dié kant van die verhaal vertel hy my eers die afgelope week – het hy in al die jare nog nie één woord van dank van die owerhede se kant gekry nie. Daar is selfs enkeles van wie hy voel dat hulle sy werk glad nie verstaan of waardeer nie – selfs ‘n afkeer daarvan het.
Dit bly jammer. Want behalwe dat so ‘n negatiewe en ondankbare reaksie alle entoesiasme blus, is dit ook kortsigtig. Toon dit min deernis en begrip vir my vriend en die gevangenes se behoeftes.
Laat ons tog op dié punt nie versuim nie. Om dankie te sê, kos regtig min.
Ag Here, dat ons so kla, is dikwels ‘n teken van ondankbaarheid. Maak ons oë vandag weer oop vir u goedheid. En leer ons om dankie te sê. Amen
Carel Anthonissen