As iemand droefheid veroorsaak het, is dit nie vir my wat hy hartseer maak nie, maar vir julle almal … Nou moet julle so ‘n iemand liewer vergewe en bemoedig, anders kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor. Daarom vra ek julle: Bewys liefde aan hom. (2 Korinthiërs 2:5-8).
Jesus het ons nie verniet daaraan herinner dat die ware wysheid die slimmes en geleerdes van die wêreld soms ontglip nie (Matt 11:25).
En dat – en dit is die keersy daarvan – die mees verhewe insigte dikwels onverwags uit die mond van die eenvoudiges, selfs kinders, kan kom nie.
Die week leer ek dié les weer by ‘n eenvoudige arbeider. Hy lê plaveisel by ‘n vriend se huis. Dié kla oor ‘n stuurse buurman wat hom ongevraagd met sy sake bemoei, stories opmaak en ongegronde kritiek lewer. Meesal oor onbenullighede.
Waarop die voorman, toe hy dit hoor, byna nonchalant laat val: “Ja, party se seer neem langer om te genees.”
Wat ‘n merkwaardige en belangrike insig! Want is dit nie so dat agter baie mense se knorrigheid en kwetsende kritiek daar ‘n onvergenoegdheid skuilgaan, selfs ‘n wond of seer wat om aandag en heling roep nie?
Om dít raak te sien, kan ons help om nie onnodig sensitief vir kritiek te wees nie. Of té heftig daarop te reageer asof die probleem uitsluitlik by ons lê nie.
Want sulke kritiek is dikwels ongegrond en, soos die voorman ten regte gesnap het, ‘n projeksie van mense se eie onverwerkte pyn en hartseer.
Paulus het dit geweet. Daarom kon hy, soos ons in 2 Korinthiërs 2:5-11 sien, sy felste kritikus steeds met liefde bejeën.
O Here, gee ons die insig om agter mense se kritiek en sinisme steeds ‘n hart te sien klop – een wat dikwels vol pyn en verdriet is. Amen
Carel Anthonissen