Boodskap vir Vandag

Search

Hy hou alles in sy hande

Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar en deur Hom bly alles in stand (Kolossense 1:16-17).

Agter die vrymoedigheid waarmee Paulus sy gehoor in Kolosse aanmoedig om nie weg te draai van Jesus as die kernfiguur van hulle geloof nie, sit daar ‘n troosvolle wete.

Dit is die wete dat Jesus Christus die Here is – die Een wat heers oor alles en almal. Die Een wat elke dag alles en almal met liefde en sorg omring, vashou en dra.

Self diep aangegryp deur hierdie heerlike waarheid, sing Paulus dit as ‘t ware uit in Kolossense 1:15-28. In dié lied hoor ons die bykans ongehoorde dat die eenvoudige timmerman van Nasaret deur God tot Heerser oor alles verhoog is.

Nie alleen – so jubel Paulus dit uit – was Hy reeds by die skepping in God se gedagte as die doel en bestemming van alles nie (Kol 1:15-17). Met sy koms en spesifiek deur sy soendood en opstanding, is sy heerskappy finaal gevestig. Is alles en almal nou in en onder sy hand – ook die donker magte wat ons dikwels so ontstel en angstig maak (Kol 1:20-22).

Sodat ons vannag weer getroos mag gaan slaap, maak nie saak hoe chaoties die wêreld lyk nie.

Here, ek loof U vandag weer as die Heer oor alles. Help my om in dié wete te bly rus. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.