Hy is die hoof oor al die bose magte (Kolossense 2:10).
As deel van ‘n meer primitiewe wêreld het die mense van Kolosse met ‘n permanente angs vir allerlei onbekende en donker kosmiese magte rondom hulle geleef.
Om hierdie magte in bedwang en rustig te hou, het hulle gevolglik allerlei rituele beoefen, soos onder andere die Joodse besnydenis, die hou van sekere feesdae asook die nakoming van bepaalde gebruike en voorskrifte.
Laasgenoemde het veral hulle eetgewoontes geraak.
Om egter jou brose en angsvolle lewe dáármee te probeer verskans, was vir Paulus oorbodig. Dit was vir hom selfs ‘n mosie van wantroue in die beloftes van God oor wat God deur Christus reeds vir die mensdom gedoen het.
Meer as eenmaal spel Paulus dit uit dat Christus die hoof oor al die bose magte is (Kol 1:16, 2:9). Hy gaan selfs verder deur te sê dat Christus hierdie magte oorwin en tot openbare skouspel gemaak het (Kol 2:15). Of soos Eugene Peterson dit vertaal: “He stripped all the spiritual tyrants in the universe of their sham authority at the Cross and marched them naked through the streets.”
Sodat ons hierdie magte – watter name of gesigte hulle ook al vandag mag hê – nie langer hoef te vrees nie.
Dus, wat ook al jou vandag pla of angstig maak, weet tog: Christus het dit oorwin. In Hom is jou lewe vir tyd en vir ewigheid geborge.
Dankie Here, dat wanneer die nag van angs en twyfel kom, ja, die nag van lyding en van die bittere dood, U daar is om ons vas te hou. Amen
Carel Anthonissen