Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Voed die vertroue

Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie (Kolossense 1:23).

‘n Klompie jaar gelede stuur ‘n Duitse student aan my ‘n eenvoudige, maar aangrypende, skets.

Die skets is van ‘n klein dogtertjie wat biddend teen die palm van ‘n groot hand aanleun wat haar beskermend stut en dra.

Daarmee wou die student iets van haar geloof in God se almag en beskerming met my deel. Iets van haar vertroue in Christus se heerskappy oor alles en almal aan my vertel. En hoe dit haar elke dag versterk, vertroos en veilig laat voel, te midde van ‘n rustelose en gevaarlike wêreld.

Daar is ‘n sin waarin Paulus se brief aan die gemeente Kolosse gesien kan word ‘n poging om ons as gelowiges se vertroue in hierdie grootse waarheid te versterk. Om ons te bly herinner dat ons lewe, hóé broos en swak ook al, net soos die dogtertjie s’n, voortdurend omvat en gedra word deur die groot en beskermende hand van die lewende God.

En dat ons hierdie vertroue moet bly voed. Nie moet toelaat dat ons uit sy hand geruk word en só ons hoop op ‘n nuwe soort lewe, ja, selfs ‘n ánder, rooskleuriger en regverdiger toekoms moet verloor nie.

Want daar is inderdaad magte róndom en ín ons, ja, ook mense náby ons wat hierdie vertroue voortdurend probeer ondermyn.

Here, kom drenk ons vandag opnuut in u vertroue, sodat selfs ons innerlike woestyne oorvloediglik kan blom. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.