Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê (Hosea 2:13).
In die geskiedenis van Israel, maar ook van die Christendom, het die woestyn altyd ‘n belangrike rol gespeel.
Israel het ‘n groot deel van hulle vormingsjare as volk van God in die woestyn deurgebring. Jesus self sou later deur die Heilige Gees die woestyn binnegelei word om daar versoek te word, asook om die wil van sy Vader beter te leer ken.
In die vierde eeu het die bekende woestynvaders die wildernis opgesoek om aan die dekadente waardes van die samelewing te ontsnap en ‘n lewe in volkome gehoorsaamheid aan God te beproef.
In die boek Hosea word die woestyn weer ‘n plek van herstel en vernuwing nadat die volk van God afvallig geword het.
Die woestyn was belangrik omdat dit ‘n plek van stilte en afsondering was. ‘n Plek waar gelowiges, los van allerlei onnodige en ongesonde afleidings en verknogthede, hulle in nederige ootmoed tot God kon keer. En God die geleentheid kon kry om hulle opnuut met liefde aan te raak en vir hulle ‘n pad van hoop en vryheid, selfs van nuwe avontuur, aan te dui.
Gegee ons vol en gefragmenteerde lewe, het ons vandag méér as ooit sulke plekke en tye van afsondering en stilte nodig. Nie net kan dit ons ervaring van God se liefde en nabyheid help versterk nie. Dit gee ook moed, krag en perspektief in tye van beproewing.
Soos een van die woestynvaders dit gestel het: “Any trial whatever that comes to you can be conquered by silence.”
Die groot uitdaging bly steeds om sulke stil oomblikke in ons alledaagse lewe in te bou.
O Here, dankie vir die gawes van stilte en afsondering. Help my dit vandag weer sonder angs te ontvang – dit ook in te bou in my daaglikse lewe. Amen
Carel Anthonissen