Dié dag sal Ek vir Israel ‘n ooreenkoms sluit met die wilde diere, die voëls en alles wat op die grond kruip. Ek sal die wapens vernietig en ‘n einde maak aan oorloë in die land sodat daar rus en vrede kan wees (Hosea 2:17).
In Hosea 2:13-20 is daar ‘n baie interessante verband tussen die herstel van God se verhouding met sy volk en die herstel van hulle land.
Dit is byna asof ‘n herstelde verhouding met God die voorwaarde word vir ‘n land wat weer opbloei en sy vrug gee. Vir ‘n samelewing waar vrede en geregtigheid gedy, die ekonomie weer sy kop optel en almal in harmonie en vrede begin leef.
Luister net: Die dag wanneer die volk die name van die afgode nie meer ken of noem nie, maar hulle hulle lewe weer soos ‘n lojale bruid begin wy aan hulle man wat God is, sal die wapens vernietig word, die oorloë ophou en daar vrede kom (Hos 2:17).
Wat meer is: Die wilde diere van die veld en die voëls sal weer terugkeer. Daar sal reën kom, soos wat die lug die grond antwoord. En dan sal die grond weer hierop antwoord met koring, wyn en olie (Hosea 2:20).
Ja, die land sal voorspoedig en vrugbaar word.
Luister ‘n mens na hierdie wonderlike beloftes, kan jy amper nie help om te vra nie: “Het ons dit alles waaragtig vergeet? Ja, het ons so groot en verwaand geword dat ons nie langer die geheim van ware vryheid en voorspoed ken nie?”
Dit staan tog lewensgroot daar in Hosea 2:13-22.
Here, vergewe ons ons blindheid. Dat ons nie raaksien hoe U ons land kan en wil seën nie. Help ons om ons hart elke dag opnuut na U te keer. Amen
Carel Anthonissen