Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die dieper rede vir verval

Maar toe die Baäls hulle roep, het Israel My verlaat en vir die Baäls gaan offer, vir die afgodsbeelde offers gebring (Hosea 11:2).

In die boek Hosea is daar nie net sprake van ‘n verband tussen die herstel van mense se verhouding met God en die genesing van ‘n land of ‘n samelewing nie.

Daar bestaan volgens Hosea omgekeerd ook ‘n verband tussen die verval van ‘n land en die feit dat die inwoners God verlaat en valse gode begin aanbid het. Duidelik hoor ons dit in Hosea 11:1-11.

Hier kondig God aan hoe Israel se stede verwoes sal word. Ja, hoe moord en doodslag, geweld en wanorde aan die orde van die dag sal wees (Hos 11:6-7). En dít omdat Israel hulle God verlaat en ander, vals gode begin aanhang het (Hos 11:2).

Hierdie rampspoedige gevolge van die volk se sondes word nog meer konkreet deur Eugene Peterson uitgespel wanneer hy hierdie verse só vertaal: “My people are hell-bent on leaving me. They pray to God Baal for help … That’s why his cities are unsafe – the murder rate skyrockets and every plan to improve things falls to pieces.”

Hoor julle dit? Die agteruitgang van ‘n samelewing is nie net die gevolg van powere leierskap, ‘n swak ekonomie, slegte dienslewering of kroniese misdaad en geweld nie. Daaragter sit daar ‘n ander, dieper rede: Mense se onwil om die God van die Bybel se wil te soek en te volg. Asook hulle liefde vir ander gode.

En laat ons nie ‘n fout maak nie ‑ hierdie gode bestaan vandag nog!

Here, dankie dat U ons vandag weer daaraan herinner dat U die sentrum van ons lewe is. En dat sonder U alles verword en inmekaarsak. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.