Boodskap vir Vandag

Search

Die voordeel van die twyfel

Maar jy, wie is jy om regter te speel oor jou naaste? (Jakobus 4:12).

In ons soort samelewing waar spanning, wantroue en onbegrip tussen mense hoogty vier, is dit belangrik om altyd weer nuwe weë te soek ten einde meer begrip en vertroue tussen mense te help kweek.

Één so ‘n weg of riglyn is om, in ons beoordeling van mense se gedrag, méér ruimte te laat vir wat bekend staan as “die voordeel van die twyfel”.

Om mense die voordeel van die twyfel te gee, beteken dat jy hulle nie te gou of te hard beoordeel nie. Dat jy altyd weer hulle eie unieke omstandighede en beperkinge in ag sal neem. Soos dat hulle onbedoeld ‘n bepaalde fout kon begaan het. Of vanweë onvoorsiene omstandighede gedwing was om op ‘n sekere manier op te tree.

Só ‘n optrede mag miskien sleg of skeef voorkom, maar agterna kan dit blyk dat dit nooit regtig so bedoel was nie.

Natuurlik beteken die gun van hierdie voordeel nie dat ons mense se onbeskofte gedrag of onverskilligheid net gelate sal aanvaar of verduur nie. Daar is wel grense aan verdraagsaamheid.

Maar soms moet ons tog ‘n bietjie wag, ‘n bietjie langer en dieper kyk. Want sommige mense, veral dié wat later hulle flaters besef en daaroor spyt is, verdien die voordeel van die twyfel.

Inderdaad is dit ook ‘n vorm van liefde waartoe ons vandag geroep word.

Here, gee ons vandag weer daardie geduld en liefde wat ons in staat sal stel om ander nie te gou te oordeel nie, maar hulle die voordeel van die twyfel te gee. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.