Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is (Psalm 103:14).
Alle mense kry hulle sogenaamde afdae of af-oomblikke.
Dit is daardie tye of oomblikke wanneer alles skeef loop. Wanneer iets gebeur of omstandighede só teen jou draai en jy vir daardie oomblik totaal van balans af voel. Voel asof al jou spreekwoordelike wiele afkom en jy nie in staat is om jouself te wees of jou beste te lewer nie.
Die ergste is wanneer sulke oomblikke boonop in die publiek plaasvind, voor die oë van ander mense.
Wanneer ‘n atleet byvoorbeeld voor ‘n groot skare struikel of val. Of ‘n tennisspeler een bal na die ander uit- of misslaan. Of ‘n spreker sukkel om die regte woorde te vind.
Onlangs tydens ‘n radio-opname gebeur dit met my dat ek totaal van stryk is, nie die regte woorde kan vind nie, lomp en onsamehangend praat, heeltyd kleitrap. Sulke oomblikke is hoogs frustrerend, want jy weet jy kon soveel beter gedoen het.
Wat gemaak as dit gebeur? Hoe oorkom jy so ‘n verleentheid?
Miskien is dit ‘n skamele troos, maar vereers moet ons onthou dat almal dit kan oorkom. Verder moet ons weet dat sulke oomblikke wel verbygaan. En dat daar altyd weer nuwe kanse vir verbetering of vernuwing sal kom.
Die belangrikste is om jou eie beperkinge te leer ken, jouself nooit te ernstig te neem nie. Ook te leer om jouself in sulke oomblikke te vergewe. Wat jy ook mag doen – elke slag – want God is vandag weer óm en bý jou.
God verstaan. God vergewe. God weet waarvan jy gemaak is.
Here, wat ‘n troos om te weet dat U ons swakhede ken. En dat U bereid bly om ons te vergewe. Amen
Carel Anthonissen