Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?” “Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien” (Johannes 1:48).
Dit is nie aldag dat iemand uit die bloute na jou kom en jou inlig oor die mense wat die grootste invloed op hulle lewe gehad het nie.
Dit is wat onlangs met my gebeur het.
Kort ná die afloop van ‘n gedenkdiens vir ‘n nederige vrou wat haar lewe lank laerskoolonderwys gegee het, kom ‘n prominente sakeman by my staan. Verwysende na die oorledene, raak hy toe die volgende oor haar kwyt: “Van almal wat my lewe oor jare heen beïnvloed het, staan sy heel bo-aan die lys.”
Ek is verbaas en vra nuuskierig uit oor die aard van haar invloed op sy lewe.
Waarop sy kort antwoord was: “Toe ek nog ‘n onseker en onopvallende kleuter was, het sy my raakgesien en met my begin praat – my ook bewus gemaak van my potensiaal as mens. Waar ek vandag is, is grootliks aan haar te danke.”
Sy woorde het my herinner aan Jesus se roeping van Natanael. My ook weer laat besef hóé ons dade en optrede mense kan beïnvloed, meesal sonder dat ons die aard, omvang of betekenis daarvan goed besef.
En dit begin dikwels net dáár dat ons mense raaksien en wys dat ons in hulle belang stel.
Só, kyk ‘n slag van jou selfoon op en neem kennis van wie rondom jou is.
Here, dankie dat U ons vandag weer raaksien en opsoek. Help ons om dieselfde vir ander te doen. Amen
Carel Anthonissen