Maar die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, en hy het in die oorlog as hulle aanvoerder opgetree (1 Samuel 18:16).
Ons lewe is daagliks op baie maniere deur talryke seëninge omring.
Ons moet alleen ons oë daarvoor oopmaak en hierdie seëninge – in die woorde van ‘n ou Hallelujalied – begin tel.
Daar is die seëninge van die natuur wat elke dag vars rondom ons ontwaak en niks vra om geniet te word nie. Of van ‘n familie wat jou liefhet – wat daagliks aan jou dink, met jou praat en jou bly dra as dit sleg gaan. En moenie vergeet van die seën van lojale vriende wat van jou hou en graag by jou kom nie.
Onlangs vertel ‘n vriend my ‘n wonderlike storie in dié verband. Van hoe iemand hom op ‘n dag in ‘n openhartige gesprek gevra het of hy weet hoe geliefd en gerespekteer hy werklik is. En hoeveel mense daar is wat graag sy vriend sal wil wees.
Wat ‘n voorreg, wat ‘n seën – dat daar mense is wat graag jou vriend wil wees!
Dink mooi: Hoeveel mense is daar vandag wat dié voorreg of seën moet ontbeer? Eensame, verstote en afgeskeepte mense wat daarna verlang dat iemand tog na hulle sal uitreik en hulle vriend sal wees.
Ja-nee, ons moet ons seëninge tel, elke dag!
Here, dankie vandag weer vir talryke seëninge. Dankie vir die natuur, vir familie en veral vir vriende. Help tog dat ek u seëninge nie sal versmaai nie. Amen
Carel Anthonissen