Luister tog na my woorde, Here, hoor hoe ek sug (Psalm 5:2).
Op die vraag wat die waarde van gebed vir moderne mense is, het ons reeds gehoor dat dit ‘n bepaalde terapeutiese waarde het.
Gebed kan mense help om stil te word en eerlik oor hulle lewe na te dink. Om só hulle gees oper, ontvankliker en gesonder te hou.
In die Christelike tradisie, so is oor eeue heen geglo, speel hierdie proses van inkeer en nadenke hom altyd af in die teenwoordigheid van ‘n Godheid. Of soos die gereformeerdes dit gestel het, “voor die aangesig van die God van Jesus Christus”.
En dié God – so getuig die apostels deurlopend – is ‘n God wat vir mense omgee, ‘n God wat die nood van mense ken en wat hulle versugtinge altyd ernstig neem. Geen wonder nie Jesus noem sy God ‘n Vader wat sorg en na wie ons elke dag met vrymoedigheid mag uitreik.
In ‘n sin stoel ware gebed op hierdie vertroue dat die God van Jesus bestaan. En dat hiérdie God ons as sy kinders aangeneem het. As ons God se kinders is, mag ons maar na God roep. Trouens, ware gebed begin áltyd by hierdie roep, hierdie versugting, selfs sug, dat God tog na ons sal luister. Dat God weer tot ons redding sal verskyn (Ps 80:4).
In die beroemde Karl Barth se woorde: “Daar is geen besonderse kuns in gebed nie, net die eenvoudige feit dat God se kinders mag bid, na God mag bly roep.”
Here, dankie dat U my aangeneem het as u kind. Daarom roep ek vanoggend weer na U. Amen
Carel Anthonissen