Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding (Psalm 80:8).
Wat gemaak as jy op ‘n dag, soos die digter van Psalm 80, die gevoel kry dat God totaal afsydig teenoor jou gebede staan?
Sodat, hoe hard jy ook al pleit, die gevoel by jou bly dat God sy rug op jou gedraai het. Nie regtig na jou luister nie!
Die probleem of raaisel raak nóg erger wanneer jy oor jare heen boonop jou beste probeer het om God getrou te dien. Net om te sien hoe allerlei rampe of terugslae jou steeds bly tref, sonder enige aanduiding dat God regtig daar is of omgee.
By die digter van Psalm 80 – en dit kan óns miskien ook help – kry ons, wat dié probleem betref, nie enige poging om hierdie donker raaisel uit te pluis of rasioneel te verklaar nie. Dit is asof die psalmdigter, terwyl hy weet dat sy volk geen aanspraak op God se guns het nie, tog nie kan glo dat God hulle sommer sal vergeet of prysgee nie.
En daarom bly hy in vertroue steeds worstel met God. Bly hy kla. Bly hy roep dat God hom wéér oor hulle sal ontferm, wéér aan hulle sal verskyn, wéér God se hand oor hulle sal hou, wéér vir hulle sal sorg.
Soos Jakob van ouds bly hy vasklou aan God. Weier hy om God te los, alvorens God hom seën.
So ‘n worsteling mag soms lank duur, maar dit is dikwels al wat ons kan en ook móét doen wanneer God so ver en alles uitsigloos voel.
Here, saam met die psalmdigter werp ek my vanoggend weer op U. Roep ek na U. Ek bid: Laat my nooit my vertroue in U verloor nie. Amen
Carel Anthonissen