U is goed, Here, U vergewe altyd weer, U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp (Psalm 86:5).
Nog ‘n belangrike waarde van gebed is dat dit ons bewus hou van ons eie beperkings en eindigheid as mense.
Ook van die feit dat ons afhanklike wesens is – mense wat in onsself eenvoudig té min het om finale sin aan ons lewe te gee.
Want sien, wie voor sy God buig of kniel, doen dit altyd met die bewussyn dat hulle nooit die middelpunt van die wêreld kan wees nie. En dat sonder die hulp van God, of God se stempel van goedkeuring op hulle lewe, hulle arbeid maklik leeg en nutteloos kan word.
In ‘n boeiende artikel oor die moderne mens, herinner die filosoof, Hennie Rossouw, ons aan die pretensie waarmee die sogenaamde makende mens (“homo faber”) vandag leef. Dit is die mens met sy tegnologiese vernuf wat tot min of meer alles in staat is. Selfs in staat is om mettertyd die dood te troef en ‘n eie soort ewige lewe op aarde te skep.
Dié aanspraak, so wys Rossouw verder tereg, is nie net vals nie, maar ‘n tragiese vergissing. Want as sodanig is die lewe altyd onvoorspelbaar, broos en verganklik. En wie hiermee in die reine wil kom, het hulp en troos van buite nodig. Daardie troos wat die God van Jesus aan ons beloof het.
Aan dié troos sal die biddende mens (“homo orans”) ons altyd herinner.
O Here, ek buig vandag weer voor U omdat ek op my eie nie langer kan regkom nie. U moet help, U moet troos. Daarop vertrou ek vandag weer. Amen
Carel Anthonissen