Boodskap vir Vandag

Search

Gebed as leergang

So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel … (Matteus 6:9-10).

In ‘n baie mooi stuk oor gebed in sy magistrale werk “Christelijk Geloof”, wys die Hollandse geleerde, Hendrikus Berkhof, ons hoe die sogenaamde vra-gebed regdeur die Bybel domineer.

Selfs al is daar ander vorme van gebed soos dank, aanbidding en skuldbelydenis, gaan dit, aldus Berkhof, byna altyd weer oor in die vra vir hulp en bystand.

En tog, is die belangrike punt wat Berkhof wil maak, leer ons binne die gemeenskap van gelowiges mettertyd om méér te vra as waarmee ons begin het. Ook om ánders te begin vra.

Gebed is in dié opsig ‘n leergang.

Want wie begin bid – dit weet ons tog – se gebede draai gewoonlik éérs om hulle eie behoeftes en sorge. Maar algaande – en dit moes die dissipels en selfs Jesus later in Getsemane leer – begin jy om met Gód se wil en Gód se belange op die vóórgrond te bid. Ja, die Onse Vader met sy fokus op God se eer, se koninkryk en se wil, begin jou gebede ál meer kleur en domineer.

En dít omdat jy geleer het wie dit waag om allereers hiérvoor te bid, se eie wil en behoeftes sal daardeur ook volkome tot hulle reg kom.

Die vraag bly natuurlik steeds of ons dit glo, en hoe leerbaar ons is?

O Here, leer ons vandag weer om te bid. Leer ons om u goeie wil bo alles te soek. Want alleen só – dít het U beloof – sal ons diepste behoeftes ook bevredig word. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.