Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind (Psalm 131:2).
‘n Vorm van gebed wat in ons tyd weer herwaardeer en beproef word, staan bekend as “kontemplatiewe gebed”.
Kontemplasie is ‘n groot woord wat eenvoudig “betragting” of “aanskouing” beteken. Of soos ‘n bekende geestelike dit eenmaal gestel het: “Dit is ‘n vorm van Godskennis wat van God se onbegryplike liefde deurweek is.”
Om hierdie liefde te ervaar, is stilte en selfs ‘n tyd van afsondering egter nodig.
Tereg sien een van die ou kerkvaders, Gregorius die Grote, kontemplasie as die vrug van ‘n stille bepeinsing van God se Woord. Hy noem dit ‘n rus in God waarin mense se hart en denke nie meer angstig na God op soek is nie. Iets méér begin gebeur: In die stilte en rus begin mense eerstehands en direk iets van God se liefde erváár.
Só skep kontemplasie toegang tot die grootste gawe denkbaar. Dit is die gawe van God se verrassende liefde wat geen eise of voorwaardes stel nie.
En in dié liefde kan mense alleen rus, terwyl hulle dit met blydskap ontvang en geniet.
Here, liefdevolle God, in hierdie oomblik wil ek net stil word en by U rus – rus soos ‘n kind aan die bors van ‘n moeder. Amen
Carel Anthonissen