Boodskap vir Vandag

Search

Die waarde van stilte

Maar in die vuur was die Here nie. En ná die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte. En toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. En toe hoor hy ‘n stem … (1 Konings 19:12-13).

Die waarde wat stilte en rus vir moderne mense mag hê, moet nooit onderskat word nie.

Daar is ‘n sin waarin stilte selfs ‘n belangrike sleutel tot sinvolle verandering in ons persoonlike lewe asook in ons samelewing kan bied.

Om mee te begin, bring stilte ons nader aan onsself. Gee dit perspektief. Help dit ons om eerliker en méér deursigtig te word. Dit is ook die pad waarop God die beste kans kry om ons met Goddelike liefde te bedien, sodat ons met groter deernis teenoor alle ander mense kan gaan leef.

Tereg skryf ‘n ou Siriese teoloog, Isaac van Nineve:

“As jy lief is vir die waarheid, word ‘n liefhebber van stilte. Want meer as baie ander dinge sal stilte vrugte oplewer wat die tong nie kan beskryf nie. In die begin mag dit moeilik wees. Dit mag selfs gebeur dat jy jouself moet forseer om stil te word. Maar as jy aanhou, sal daar iets in jou gebore word wat jou op ‘n onweerstaanbare manier telkens na die stilte sal terugbring.”

In ‘n samelewing waar baie mense in die meedoënlose sleurgang van werk of ‘n maalkolk van daaglikse plesier en verveling vasgevang is, bly dit ‘n tydige herinnering.

O Here, in die oomblik wil ek voor U stil word. Ek doen dit omdat ek glo dat U my só beter met u liefde kan bedien. Kom, Here raak my aan. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.