Liewe Gaius, jy handel reg in wat jy vir jou medegelowiges doen, en dit nog terwyl jy hulle nie eers geken het nie (3 Johannes vers 5).
Weet jy dat daar elke dag mense rondom jou is wat jou in jou huidige krisisse en nood kan en ook wil bystaan en help?
Mense soos die ou kerkleier Gaius – van wie Johannes so gloedvol getuig (3 Joh) – wat jou lewe positief kan beïnvloed en help verander. In Paulus se woorde: Mense wat jou lewe tot ‘n aangename geur voor God en voor ander kan maak.
Soos daardie digter wat eenmaal die impak van iemand se aandag, liefde en sorg met die onverwagse en verrassende aanbreek van ‘n nuwe lente in sy lewe vergelyk het. Wat hy dan só beskryf:
you opened up a lusty spring
I did not know existed
you woke the dormant seed
that silently through barren
years persisted
In short: you gave me back the
bloom and grace of the Karoo
a lonely, oft forgotten place.
Die vraag is of jou oë en ore in dié tyd oop is vir sulke mense. En miskien belangriker nog, of jy gewillig en dapper genoeg is dat hulle ‘n nuwe lente in jou lewe help ontsluit?
Want dít is tog wat God wil.
O Here, gee my vandag die moed en vertroue om hulp te aanvaar. Want ek sukkel op my eie. Amen
Carel Anthonissen