Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie (Psalm 118:1).
Die evangelie van God se groot en troue liefde kom dikwels op vreemde maniere na ons toe.
Soos in die rolprent “Rickie and the Flash”.
Die bekende aktrise, Meryl Streep, vertolk hierin ‘n ongewone rol. Dié van ‘n rock-ster wat met haar ghitaar en smeulende stem mense se litte los sing. Haar loopbaan neem haar egter op allerlei wilde, selfs dekadente reise, en vervreem haar van haar man en familie.
Dié vervreemding duur tot aan die einde van die rolprent wanneer haar een seun trou en sy en haar rare vriende ook by die partytjie opdaag. Ná ‘n klompie ongemaklike oomblikke, hou sy as ma ‘n kort toespraak – een waarin sy eers haar mislukkings bely. Maar dan ook haar talent as enigste gawe en teken van liefde aanbied.
En dié liefde sing sy dan saam met haar ongewone kamerade uit in die Bruce Springsteen-lied: “My love will never let you down.”
Meegevoer deur die musiek en die lied, begin die gaste een na die ander met oorgawe en vreugde te dans. Dit word uiteindelik ‘n dans van liefde en versoening. Een wat gedra word deur die wete: “Hierdie ma se liefde sal haar familie en vriende nooit vergeet of in die steek laat nie.”
Weliswaar is dit maar ‘n fliek. Maar vertolk dit nie op ‘n baie menslike wyse ook die belofte van die evangelie waaroor ons ook vandag met oorgawe en vreugde kan dans nie?
Dit is dat God se liefde geen einde het nie. Dat dié liefde, ondanks al ons baie foute en verkeerde keuses, ons nooit sal versaak nie.
Here, hieroor kan ons vandag weer juig en dans: U liefde is ewig en sal ons nooit versaak nie. Amen
Carel Anthonissen