Toe Jakob klaar gepraat het, het hy gaan lê en sy laaste asem uitgeblaas. Josef het toe oor sy pa gebuk en hom al huilende gesoen (Genesis 49:33-Genesis 50:1)
In die rolprent “Woman of Gold” is daar ‘n aangrypende toneel.
Dit is wanneer die Jodin, Maria Altmann, haar bejaarde ouers finaal in hulle groot huis in Weenen gaan groet voordat sy en haar man die destydse Nazi-beheerde Oostenryk vlugtende sou verlaat.
Maria voel hartseer omdat sy besef dat dit ‘n laaste afskeid is. Ook omdat sy skuldig voel – voel dat sy langer by hulle moes bly, nog méér kon help. En miskien selfs hulle lot moes deel.
Maar die ouers begryp en troos haar, wel met ‘n laaste, ontroerende versoek. En dit is dat sy sal beloof om hulle nooit te vergeet nie. Dat sy haar lewe lank hulle in haar hart sal bly dra. Ook sal sorg dat sy in ‘n nuwe land gelukkig sal wees.
Laat ek eerlik wees: Dié toneel het my diep geraak. Selfs tot ‘n nuwe soort bewussyn en voorneme geruk. En dit is om die dooies beter te onthou. Om die herinnering aan hulle wat ons oor die jare ontval het – ouers, huweliksmaats, kinders, vriende en ander geliefdes – méér doelbewus wakker te hou en te eer.
Want wie dít nalaat, vergeet en verwaarloos ‘n belangrike deel van hulle eie lewe en geskiedenis.
Here, ons dink vandag aan daardie geliefdes wat nie meer by ons is nie – ons ouers, ‘n huweliksmaat, kind of vriend. Ons koester die herinnering aan hulle met groot dankbaarheid. Help ons om hulle altyd in ons harte te dra. Amen
Carel Anthonissen