Wie ‘n verkeerde optrede teenoor homself verontagsaam, soek goeie verhoudinge; wie ‘n saak bly ophaal, bring verwydering tussen vriende (Spreuke 17:9).
Soos baie, het ek nie altyd geduld met motoriste wat die padreëls willens en wetens oortree of ignoreer en so ander se lewens in gevaar stel nie.
Dié soort onverskilligheid maak ‘n vreemde opstand, selfs woede, in my los.
Nou die dag weer steek iemand my onnodig van agter op ‘n geel streep verby. ‘n Oomblik kom die versoeking om die toeter te blaas, gebare te maak en ja, hom selfs agterna te sit.
Maar dan skop daar ‘n kalmte in. Kom ‘n stem uit my binneste wat sê: “Laat los dit nou! Ontspan! Jou wrewel en lawaai gaan niks verander nie. Behalwe om jou eie gemoed om te krap. Fokus eerder daarop om positief te bly en self binne die reëls te leef.”
Wat ons op die pad beleef, gebeur ook in ander situasies. Dat ons nie wil laat los nie. Herhaaldelik terugkeer na die pyn, die teleurstelling, die verontwaardiging, die onreg. Heeltyd aandring op ‘n verduideliking, regstelling, selfs vergelding.
Party dae is so ‘n aandrang natuurlik wel noodsaaklik en geregverdig. Maar in baie gevalle is dit beter om te laat los. Om nie verder te torring of te karring nie. Maar om aan te gaan en positief te bly.
So ‘n houding of benadering het, soos die Spreuke-digter suggereer, dikwels ‘n beter kans om verhoudings te verbeter.
Here, vergewe my vandag weer daardie ongeduld wat tot niks lei, behalwe om myself en ander om te krap nie. Leer my opnuut wanneer om moedig op te staan teen onreg en wanneer om ter wille van groter vrede te laat los. Amen
Carel Anthonissen