Die hoof van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus op die Sabbat iemand gesond gemaak het (Lukas 13:14).
Volgens Jesaja was die tweede voorwaarde vir ‘n gesonde samelewing geleë in die onderhouding of heiliging van die Sabbat (Jes 58:13-14).
Hierdie Joodse rusdag is destyds na aanleiding van die verhaal van God se skeppingswerk in Genesis 1 ingestel. In die Christelike tradisie is dit mettertyd aan Christus se opstanding gekoppel, en het dit ons huidige Sondag geword.
Deur die eeue heen is die betekenis van die Sabbat, oftewel die Sondag, egter op meer as een manier verkrag. Een daarvan was ‘n oordrewe wettiese verstaan en inrigting daarvan. Sodat gelowiges, in die gees van die destydse Fariseërs, verbied is om enige normale werk op dié dag te verrig.
Selfs Jesus het onder dié siening of benadering deurgeloop (Luk 13:14).
Só verstaan het die inrigting van Sondae tot ‘n ongesonde vorm van ledigheid en allerlei onnodige skuldgevoelens gelei. Vir dié wat byvoorbeeld naaldwerk op ‘n Sondag wou doen, is destyds gesê dat hulle daarmee God self in die oog sou steek. Om vis te vang of sport te beoefen, was selfs nóg ‘n groter oortreding.
Gelukkig is ons vandag by dié fase verby. Wat natuurlik nie die unieke betekenis van die Sondag opskort of laat verdwyn nie. Ook nie die belangrike vraag of ons wéét hoe die rus van dié dag ‘n sleutel tot ‘n meer gesonde samelewing kan bied nie?
Daarna moet ons môre kyk.
Here, vergewe dat ons nog so min van u bedoeling met die Sondag verstaan. Leer ons om dit as ‘n dag van vreugde en rus te beleef. Amen
Carel Anthonissen