Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Om op die regte toonhoogte te kom

“Ek sal u Naam aan my broers bekend maak, in die samekoms van die gemeente sal Ek u lof besing” (Hebreërs 2:12).

Een van die belangrikste gebruike vir die Christen-gelowige is om op Sondae die kerk, oftewel die erediens, te besoek.

“Maar waarom sou ons na die kerk gaan?”, vra die bekende Hollandse teoloog, Antonie van Ruler, in ‘n gelyknamige boek.

En aangrypend spel hy dan die redes daarvoor uit. Aansluitend by die liturgiese orde van die tipiese Gereformeerde erediens, sluit dit dinge in soos om die lof van God te leer besing; die aardse lewe as gawe uit God se hand te ontvang en te vier; ons geloof in God opnuut te bely en te laat versterk; by die aanhoor van die wet die bewussyn van ons eie sonde en gebrokenheid te verdiep.

Maar veel méér nog: Om die wet as ‘n soort erekode, soos ridders van ouds, as ‘n herinnering aan ons ware identiteit, trots en bestemming as mense te ontdek en te omhels.

Van die mooiste en belangrikste redes vir die bywoning van die erediens op Sondae druk van Ruler só uit: Om daar weer op die regte toonhoogte te kom, om soos ‘n sanger weer die regte noot te kom kry. Waarmee hy bedoel dat ons in die erediens, onder geklank van God se Woord, weer die unieke gees en waardes van die evangelie sal optel en, soos Jesus, aan ander sal vertolk of verklank.

Want die wêreld het dit nodig om, via God se Sondagmense, die unieke klank en vrolike boodskap van die evangelie gedurig te hoor.

Here, help ons om nie die erediens te verwaarloos nie, maar dit te sien as ‘n geleentheid om weer op die regte toonhoogte te kom. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.