As ‘n mens lank lewe, moet jy oor alles dankbaar wees (Prediker 11:8).
Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp (Psalm 68:20).
Die spreekwoord, “Oudword is nie vir sissies nie” duik deesdae meermale op in die geselskap waar ek beweeg.
En wie die impak en aftakeling van die ouderdom al gesien het, of nog erger, dit self beleef, sal nouliks hiermee kan stry.
Onlangs maak ‘n Oostenrykse vriendin van ons my weer van hierdie werklikheid bewus. Ook van hoe die laste en pyne van ouer word álmal tref, maak nie saak tot watter stand, ras, volk of kultuur jy behoort nie. Soos tans met haar pa gebeur.
Hy is ‘n trotse en kleurryke Oostenrykse burger wat sy jare goed gedra het, maar ‘n paar jaar gelede met ‘n vorm van demensie gediagnoseer is.
“Deesdae,” so vertel sy, “herken hy ons meeste van die tyd nie meer nie. Maar daar is tog dae wanneer daar ‘n onverwagse opflikkering kom. Soos onlangs toe hy, terwyl hy my hand vashou, skielik in my oë opkyk met die woorde: ‘Es ist schwer, aber ich bin zufrienden’ – ‘Dit is moeilik, maar ek is tevrede.'”
Wat ‘n eenvoudige stelling! En tog verwoord dit die betekenis van ‘n gerypte, volwasse lewe. Dat jy ‘n punt bereik het waar jy ophou stoei teen of voortdurend kla oor die lewe. Jy het tot rus gekom en vrede gemaak met jou lot.
Jy is dankbaar en tevrede, onder andere omdat jy weet jou lewe was en ís steeds in God se hande.
Here, U weet dit – dat om ouer te word, nie aldag lekker is nie. Tog dank ons U vandag opnuut dat U altyd by ons is. En dat U ons bly dra. Ja, tot anderkant die graf bly dra. Amen
Carel Anthonissen